AGTERGROND

AGTERGROND

Deon Meyer en Coenie de Villiers se verhoogproduksie Karoo Suite het die afgelope paar jaar teatergangers oor Suid-Afrika heen op hul voete gehad. Die talle vertonings het telkens uitverkoop.  Deon Meyer is die verteller van sy eie verhale op die verhoog. Coenie de Villiers het die musiek geskep wat die vertellings ondersteun. Hulle voer dit saam met die Suite-musikante Jaconell Mouton, Mauritz Lotz en David Klassen uit. ’n Oudiovisuele aanbieding – waarvan Deon Meyer self ook die pragtige Karoo-fotografie verskaf het vir die eerste Karoo Suite – vorm die agtergrond vir die vertonings.

Meyer en De Villiers het rug aan rug met die verhoogproduksie ’n luukse koffietafelboek oor die Karoo in samewerking met die Atterbury Trust gepubliseer. Hierdie beperkte oplaag is deur die skrywers geteken en genommer en het dadelik uitverkoop. Deon, Coenie en die Atterbury Trust het geen wins uit hierdie publikasie gemaak nie, maar het bykans ’n miljoen rand vir belowende leerlinge in die Karoo geskenk in die vorm van opleiding, skoolverryking en beurse.

Lees meer hier oor die Karoo-omgeeprojekte.

Ná die sukses van die eerste verhoogproduksie was gehore honger vir ’n opvolg-skepping uit dié twee meesters se verbeelding. Deon het jare gelede ’n boek bekend gestel met die naam van Karoonag en Coenie se gelyknamige lied het oor die afgelope dekades volksbesit geword. Dit was die inspirasie vir hul nuutskepping met nagstories oor die Karoo. Die oudiovisuele materiaal vir die vertoning is verskaf deur NASA, die National Geographic-span en die animasiekunstenaar Diek Grobler. Hierdie opvolgproduksie Karoo Suite 2: Karoonagte het aan die begin van 2020 by die Woordfees in Stellenbosch gedebuteer.

Lees meer hier oor die Karoo Suite-vertoning.

’n Tweede Karoo-boek is tans in produksie en beloof om een te wees wat selfs fyner na die Karoo sal kyk. Met hierdie rondte het Meyer en De Villiers selfs ’n mooier liefdesbrief aan die Karoo geskep. “Ons hoop dis ’n gebruiksboek vir die hele gesin,” sê Deon Meyer. “Dit sal wonderlik wees as gesinne die stories uit die twee vertonings kan lees, wegswenk van die N1 om oor te bly in een van die talle Karoo-dorpies, die sterrenag met behulp van ons boek verken, die mense ontmoet om hul gasvryheid te ervaar en – les bes – ’n lekker Karoo-dis voorberei.”

Klik hier om meer uit te vind oor die nuwe boek.

MEDEWERKERS

Konsep en musiek: Coenie de Villiers

Verhale en teks: Deon Meyer

Die musikante: David Klassen, Jaconell Mouton, Mauritz Lotz

Boek-medewerkers:

Fotografie deur Sarel van Staden en Maryna Cotton.

Sterrekundige teks deur prof. Matie Hoffman.

Teks oor die landskap en ekosisteem deur prof. Johann Kirsten, insette deur prof. Bruce Rubidge.

Zahn Hulme van die Atterbury Trust vertel meer oor hoe die Karoo-kinders se lewens verander is.

En dan – sommer vir die lekker – het elke medewerker aan die boek hul gunsteling-Karoo-resep bygedra.

Die verrassing is die internasionale uithalerkok Jan Hendrik van der Westhuizen (die enigste Suid-Afrikaner wat nog ’n Michelin-ster kon losslaan) se resepte vir skaapstertjies en mieliepapvingers.

ONS KAROO-VENNOTE

SÓ BESING ONS DIE KAROO

Deon Meyer

Deon Meyer

BIO:

Deon Meyer is die wêreld se mees suksesvolle skrywer van spanningsromans. Hy is in die Paarl gebore en het aan die Hoërskool Schoonspruit op Klerksdorp gematrikuleer, waarna hy die grade BA aan die PU vir CHO, BA Hons. aan die UOVS en MA by die US verwerf het. Deon het sy loopbaan as verslaggewer by Die Volksblad in Bloemfontein begin en was onder meer bedryfsjoernalis, reklamekopieskrywer, skeppende direkteur en handelsmerkkonsultant voor hy in 2007 heeltyds begin skryf het. Hy het reeds 15 romans en twee bundels kortverhale gepubliseer, en die draaiboeke van twee TV-reekse en vier rolprente geskryf. Sy boeke is in 28 tale vertaal en het tientalle plaaslike en internasionale pryse ontvang, waaronder die ATKV-prosaprys, die Franse Le Grand Prix de Littérature Policière, die Barry-prys in die VSA, die Duitse Krimi-prys en die Sweedse Martin Beck-prys.

Deon en sy geliefde Marianne woon in Stellenbosch.

 

Coenie de Villiers

Coenie de Villiers

BIO:

Coenie de Villiers was ’n dosent in kommunikasiewetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat.  Hy het homself later toegespits op ’n loopbaan as omroeper, programbestuurder en bemarker in veral die radiowese en reklamebedryf. As televisie-aanbieder was hy vir ’n totaal van 17 jaar die ankeraanbieder van kykNET se vlagskip-joernaalprogram op DStv, Kwêla. Hy het menigvuldige eerbewyse as uitsaaier en televisie-aanbieder ontvang. Hy is bekend as een van Suid-Afrika se beste uitvoerende liedjieskrywers, en het reeds 22 albums van sy eie werk uitgereik. Hy het oor die wêreld heen opgetree. Hy het onder meer vier Samas ontvang. In 2009 het Coenie die Eeufeesmedalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy bydrae tot die kunste ontvang. Hy het ook onder meer die KKNK-Kruispunt-toekenning vir ’n leeftyd van brûe bou tussen kulture in Suid-Afrika ontvang. In 2015 word die Innibos-kunstefees se lewenstoekenning vir sy bydrae tot die kunste aan hom toegeken. Sy opera, Maximilian, word in 2009 in Oostenryk opgevoer. ’n Versameling van sy lirieke oor die afgelope 40 jaar, Hartlangs, verskyn in 2012 met ’n voorwoord deur Hennie Aucamp. Sy balletproduksie Katrina is in 2018 in samewerking met Kunstekaap opgevoer. Hy meen sy samewerking met Deon Meyer vir Karoo Suite en Karoo Suite 2: Karoonagte verteenwoordig ’n hoogtepunt in sy loopbaan.

 

SUITE-MUSIKANTE

MauritzPic_smaller

Mauritz Lotz

BIO:

Mauritz Lotz is ’n befaamde kitaarspeler, gesoute musiekproduksieleier, komponis sowel as ’n veelbekroonde kunstenaar wat talle toekennings ingepalm het. Sedert Mauritz skool verlaat het om ’n professionele musikant te word, het hy talle hoogtepunte in sy musiekloopbaan van meer as 40 jaar bereik. Sy werk is reeds opgeneem op meer as 4 000 opnames en hy het al met talle bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars gewerk, onder andere: Mango Groove, Miriam Makeba, Lucky Dube, Hugh Masekela, Coleske, Steve Hofmeyr, Wouter Kellerman, PJ Powers, Kreesan, Corlea Botha, Jo Black, Ed Jordan, Johannes Kerkorrel, Lesley Rae Dowling, Little Sister, Bles Bridges, Anton Goosen, Nianell, Laurika Rauch, Joshua Na Die Reën, Eden, Karen Zoid, Jannie Moolman, Mathys Roets, Coenie de Villiers, Juanita du Plessis, Zwai Bala, Bobby van Jaarsveld, Theuns Jordaan, Sibongile Khumalo, Amanda Strydom, Soweto String Quartet, Kevin Leo, Emo Adams, Vusi Mahlasela, Nataniël, Soweto Gospel Choir, Dozi, Chris Chameleon, Jannie du Toit, Piet Botha, Dan Patlansky, Victor Masondo, Ladysmith Black Mambazo, Sibongile Ngoma, Tim Moloi, Cedric Samson, Elvis Blue en Gloria Bosman.

 

JaconelPic_smaller

Jaconell Mouton

BIO:

Jaconell Mouton het op gehoor begin klavier speel vanaf die ouderdom van vier. Sy het later algemene musiek- en klassieke opleiding gekry tot op 19-jarige ouderdom. Intussen het sy op 16 ook begin saksofoon speel. Jaconell werk as vryskutmusikant, verwerker en vervaardiger en het reeds met van die grootste name in die Suid-Afrikaanse en internasionale bedryf gewerk. Dit sluit in Herman van Veen, Stef Bos, Dana Winner, Richard Marx, Leo Sayer, Crash Test Dummies en ander. Jaconell is sedert 2003 deel van die immergewilde Noot vir Noot en het in 2012 die leisels oorgeneem by Johan van Rensburg as musiekregisseur. Sy het ook ander TV-werk gedoen, wat insluit Song vir Katryn, Klankgrens, Sweepslag (musiekregisseur), Idols SA, Musiek Roulette en die splinternuwe reeks In die kollig met... (musiekregisseur). Jaconell was ook verantwoordelik vir die musiek van die film Stuur Groete aan Mannetjies Roux. Daar is ook van haar oorspronklike musiek in die film gebruik. Tussen 2010 en 2018 het Jaconell gereeld aan verskillende projekte saamgewerk met Jeremy Lubbock, wat ’n 30 jaar lange loopbaan met die room van kunstenaars in Hollywood geniet het.

 

DavidKlassenPic_smaller

David Klassen

BIO:

David Klassen is ’n tromspeler/perkussiemusikant gebaseer in Johannesburg. Hy het op die ouderdom van 12 in die kerk se orkes begin speel. In sy loopbaan as musikant het hy met van Suid-Afrika en die buiteland se bekendste kunstenaars gewerk. Dit sluit in: Hugh Masekela, Ernie Smith, Amanda Strydom, PJ Powers & Hotline, Louise Carver, Victor Masondo, RJ Benjamin, Coenie De Villiers, Kurt Darren, Jonathan Butler en Wouter Kellerman. Hy het ook agter die tromstel ingeskuif vir talle televisieproduksies soos Noot vir Noot, Strictly Come Dancing, Gospel Skouspel, Afrikaans is Groot, In die kollig met... asook Idols SA.

 

KONTAK ONS

Wees gerus – alle inligting is vertroulik.