OMGEE

ONS STERREWAG VAN HOOP

ATTERBURY-TRUST

By die Atterbury-trust is ons ingenome en opgewonde. Ons is sielsgelukkig en geseënd. Hoekom? Die rede is die Karoo. Haar mense en haar uitgestrekte vlaktes. Haar hemel en aarde, haar hart en siel. Om deel te kan wees van hierdie verruklike projek is ’n voorreg vir ons almal by Atterbury-trust.

 

Dit laat ’n mens sommer goed voel. Oor onsself en oor ander. Dit herinner ons weer aan hoekom ons hier is en hoekom ons omgee, vir onsself, ja, maar ook vir dié wat omgee só baie nodig het.

 

Karoo Woordfees

Coenie en Deon se hartswerk met die skepping van die eerste Karoo Suite-boek en nou hierdie betowerende opvolg lê ons na aan die hart. Met hul skeppingswerk skep hulle kuns van gehalte wat nie net diep in ons gemoed ’n tuiste vind nie, maar ook werklike, praktiese en positiewe verandering in die jong mense van die Karoo se lewens meebring.

Ons is trots om weer saam met hulle ’n bydrae te kan maak tot die opheffing van diegene wat dit nie so breed het nie.

Met nabetragting kom daar ook gedagtes van nood. Van swaar tye en moeilike dae. Die lewe is vol uitdagings en steil paaie om te loop. En ons voel ook amper soos ’n kind van die Karoo, wat diep dink en dalk partymaal hardop wonder:

“Ek kyk op na die sterrehemel, waar gaan my hulp vandaan kom?”

 

En dan is dit asof ons ’n diep stem hoor, soos ’n reënbui se donderweer van ver uit die Karoo-vlaktes: “My hulp is van die Here, wat hemel en aarde gemaak het.” (Psalm 121:2.)

Baie dankie, liewe leser. Dat jy omgee.

Zahn Hulme - Uitvoerende trustee: Atterbury-trust

 

Karoo Suite I  - Terugvoer

 

Die eerste Karoo Suite-boek se inkomste is aangewend om jong mense met potensiaal blootstelling aan die wye wêreld te bied, asook om aan ’n besonder belowende groep jong mense die geleentheid van formele studie te gee.

 

  • ’n Groep van 20 gr. 12-leerlinge uit Beaufort-Wes, Murraysburg, Prins Albert en Laingsburg het na Stellenbosch gereis vir die Woorde open Wêrelde (WOW)-opedag in Maart 2019 - elkeen se eerste besoek aan Stellenbosch. Hulle het ’n Stellies-kampustoer onderneem, ’n Woordfees-musiekvertoning ervaar, sommiges het vir die eerste keer die see gesien en die bederf van goeie verblyf ervaar. Hulle is ook gehelp om aansoekvorms vir tersiêre studie aan die Universiteit Stellenbosch (US) in te dien.
  • Ses van hierdie Karoo-leerlinge is in 2020 ingeskryf as eerstejaarstudente aan die US en word ondersteun met oorbruggingsaksies wat hulle goed laat inskakel.
  • Matriekleerlinge uit die Karoo is ook in Julie 2019 na die US se Winterskool geneem vir ekstra klasse in wiskunde, wetenskap en rekeningkunde en is onder meer toegerus met vraestelle, sakrekenaars en ander studie-hulpmiddels.
  • Twee tersiêre beurse is toegeken vir 2020-studie as deel van die Atterbury-trust se inisiatief gemik op Karoo-kinders wat op plase buite Loxton woon.
  • Een tersiêre beurs is vir onderwysstudie in 2020 toegeken aan ’n assistent-onderwyser by die Laerskool JJ Booysen in Loxton.
  • Ons het ’n ruim skenking van skoolboeke en ander onderwys-hulpmiddels met behulp van die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) aan die Laerskool JJ Booysen in Loxton en die Hoërskool Beaufort-Wes gefasiliteer en bestuur.
  • In 2020 kon ons weer ’n groep matriekleerlinge uit die Karoo na Stellenbosch neem vir die Woordfees, vir ‘n kultuurervaring en wat die see kon sien.

 

Webwerf: https://atterburytrust.org/

Karoo Development Foundation (KDF)

Die sirkel van armoede loop reeds vir generasies deur die bevolking van die Karoo. Dis ’n moeilike taak om reg te stel en totaal uit te wis.

Die Karoo-ontwikkelingstigting – ook bekend as die KDF – stel dit ten doel om die streek te help ontwikkel op ’n maatskaplike sowel as ’n ekonomiese vlak.

Op maatskaplike vlak identifiseer en staan die KDF liefdadigheidsorganisies en organisasies sonder winsbejag in die Karoo by. Dit sluit liefdadigheidsorganisasies in wat ten doel het om die streek se mense te help ontwikkel en op te lei, wat werkloosheid kan verlig en verbeterde ekonomiese toestande vir die mense op grondvlak kan meebring.

Die KDF is ook die fasiliteerder en organiseerder van die Karoo-parlement. Die instansie sien gereeld die samekoms van verskeie mense uit verskillende Karoo-dorpe wat die vooruitgang van die Karoo op die hart dra. Daar word aan gespreksforums deelgeneem en idees en konsepte word uitgeruil.

Die KDF het sy betrokkenheid by die dorpies in die Karoo uitgebrei om met daadwerklike pogings aandag te skenk aan bemagtigingsprojekte onder die jeug, die verbetering van basiese mediese dienste en die versorging van minderbevoorregte mense in die streek. Terselfdertyd beoog die KDF om die Afrikaanse taal op skoolvlak te verryk deur die ontwikkeling van leerplanne vir moedertaal-onderrig in veral wetenskap en wiskunde. Hierdie aspekte is kritiek vir die ontwikkeling van loopbaangeleenthede vir jong mense binne die hoë-tegnologie-investerings in die Karoo: sonplase, die SKA, die soeke na fossiele en nuwe toerisme-moontlikhede. Hierdie bedrywe het kundige  ambagsmense nodig en hierdie basiese vaardighede is kritiek vir die vooruitgang van die Karoo.

 

Die trustees het reeds verskeie konsepte en idees ter tafel gelê om die ekonomie van die Karoo-streek ’n hupstoot te gee. Dit sluit in:

’n Karoo-toerisme-strategie

Nuwe toerisme-roetes: Karoo Battlefields, Karoo Highways, ens.

’n Sosio-ekonomiese ontwikkelingstrategie in samewerking met die investering in sonkrag en die SKA.

Webwerf: www.karoofoundation.co.za

KONTAK ONS

Wees gerus – alle inligting is vertroulik.